Die Davis-belastingkomitee (DBK) se voorstelle oor die manier waarop trusts belas word, kan beteken dat trusts nie meer die beste manier sal wees om welvaart op lang termyn te bewaar nie.
Die DBK het op 13 Julie 2015 sy voorlopige verslag met voorstelle rakende alle aspekte van welvaartbelasting in Suid-Afrika bekend gemaak.
Die DBK het onder meer gekyk na die manier waarop trusts in Suid-Afrika belas word en wys daarop dat die sogenaamde toerekeningsreëls (“attribution rules”) wat in art. 7 van die Wet op Inkomstebelasting vervat is, by die wet ingevoeg is op ’n tydstip dat die maksimum belastingkoers van individue heelwat hoër was as die van trusts. Dit het dus vir individue sin gehad om inkomsteverdienende bates na trusts oor te dra om belasting te bespaar.
Die bedoeling met hierdie toerekeningsreëls was om inkomste wat as gevolg van so ’n oordrag aan die trust toegeval het, onder sekere omstandighede in die hande van die persoon wat die bate na die trust oorgedra het, te belas. Dit moes verseker dat die inkomste teen die hoër belastingkoers van die individu belas sou word.
Oor die jare het belastingskoerse egter so verander dat die trust nou in werklikheid die hoër belastingkoers betaal. Die toepassing van die toerekeningsreëls het dus tans tot gevolg dat die individu meestal minder belasting betaal op sulke inkomste as wat die trust sou betaal.
Die tweede aspek wat die DBK met betrekking tot trusts oorweeg, is die sogenaamde geleibuisbeginsel. Hierdie beginsel laat trustees toe om trustinkomste gedurende die jaar waarin dit deur die trust ontvang is, aan begunstigdes uit te keer, waar dit teen ’n laer belastingkoers as die trust belas word. Dié beginsel is al baie lank deel van die Suid-Afrikaanse reg en is ook opgeneem in art. 25B van die Wet op Inkomstebelasting wat die belasting van trusts en hul begunstigdes reguleer.
In hul verslag dui die DBK aan dat die belastingbedeling wat tans op trusts van toepassing is, een van die groot redes is waarom daar jaarliks so min boedelbelasting ingevorder word. Die DBK kom tot die gevolgtrekking dat indien trusts vanuit ’n inkomstebelastingoogpunt onaantreklik gemaak word, baie minder mense dit sal gebruik om hul welvaart teen boedelbelasting te beskerm. Dit behoort dan die jaarlikse invordering van boedelbelasting, wat tans slegs 0.1% van totale invorderings uitmaak, voortaan te bevorder.
Die DBK beveel dus onder meer aan dat die toerekeningsreëls en die geleibuisbeginsel, wat Suid-Afrikaanse trusts betref, geskrap moet word en dat alle inkomste en kapitaalwins wat aan ’n trust toeval teen ’n vaste koers van 41% belas moet word.
Die DBK se verslag is reeds in Januarie vanjaar aan die minister van finansies oorhandig. In die verslag word erken dat die toepassing van die voorstelle verreikende gevolge vir belastingpligtiges inhou. Dit stel dus voor dat die toepassing daarvan deur wydlopende konsultasies voorafgegaan moet word en dat dit eers van 1 Maart 2016 toegepas moet word. Die feit dat die inhoud van die verslag eers verlede week vir openbare kennisname uitgereik is, laat te min tyd vir belastingpligtiges om hul opsies te oorweeg en die toepassingsdatum sal billikheidshalwe uitgestel moet word.
Die vraag is egter wat belastingpligtiges met truststrukture nou te doen staan?
Dit is egter redelik seker dat die toerekeningsreëls en veral die geleibuisbeginsel, wat al baie lank vir die belastinggaarder ’n doring in die vlees is, uiteindelik geskrap gaan word.
Tenk (FH) Loubser is ’n direkteur van TLA Wealth and Advisory Services. view profile>